Mymering op ‘n Saterdagaand

Vanaand is ek heel in vervoering met my verlede en alles wat op een tydstip met my gebeur het. Amper so in vervoering díe dag op Tannie Voetjie se stoep toe ek die deur oopmaak en die ou soetkys in die hoek van die stoepkamer sien lê. Die kamer het gestink van die aartappelmoere wat daar gestoor was omdat die kamer voorheen nie in gebruik was nie. Soos enige sandvelder jou kan vertel kry jy nie maklik die reuk van aartappelmoere uit ‘n woonkamer nie.

Ek onthou nog goed dat my vadertjie en oompie Nols buite besig was om die ou huis se mure af te wit. Destyds het hulle in die Kaap sommer ‘n sak gypsum gekoop en dan die wit poeier met water gemeng en daarmee die mure geverf met growwe borsel kwaste. Die twee het rustig op tannieVoetjie se kombuis stoele sit en verf en was heel onbewus van my daar in die stoepkamer.

Om die waarheid te sê het ek ook net daar belangstelling verloor en die verwery en nader gestaan om te sien wat in die tas was. Dit was een van daai ou karton soetkyste met die hout repe bo oor die deksel en ook onder deur om die swak struktuur stewiger te hou. Ek het die deksel versigtig oop gemaak en tot my absolute plesier ‘n tas vol fotoboekies ontdek. Met groot ongeloof het ek die boonte een uitgehaal en hier op die omslag was die man wat ek eendag graag wou wees. ‘n Man met ‘n onverstrokke gesig met langerige hare en twee sideburns wat my laat snak het van verwondering en wat my hunkerend nat my eie gladde wangetjies laat voel -voel het of iets darem nie al begin groei het.

Swaar en struikelend het ek die woorde bo op die foto gelees. Rocco de Wet. “Die Grensvegter.” Soos elke laaitie destyds het ek maar te goed geweet waar die grens was en my maaitjies by die skool was maar al te bly om my in te lig oor die gory details van die gevegte wat daar plaasvind. Ons laerskool was beleër met army mans tot die tande toe gewapen en soekligte was aan ons tralies vasgeheg wat in die aande heen en weer geswaai het soos onrustige geeste deur die nag. Want die storie gaan dat hulle ‘n Typhoon doodgeskiet het op die grens en in sy besit ‘n grondplan van ons skool gevind het. Wat die bogger daarmee wou maak kan jy vir jouself raai.

The purpose of terrorism is to terrorise. So was ons van vroeg af geleer en gou-gou het die sensasie van die armymanne by ons skool vervaag en meer aandag was gegee aan die Rocco de Wet foto boekies wat in die tasse versteek was tussen al die teksboeke. My vadertjie het kort arms en diep sakke gehad en die gedagte om vir my fotoboekies te koop het nooit eers by hom opgekom nie. Volgens my vadertjie was dit snert en selfs euwel. Gaan kyk nou maar net die kaalgat vroumense. Self die dominie van Sake van die Hart het soos ‘n skelm gelyk en die Ruiter in Swart se ogens was toegemaak soos ‘n rowenaar sin. Om nie te praat van die Wit Tier nie. Enige bogger kon sien dat die Wit Tier ook die Ruiter in Swart was met ‘n blonde pruik op. Saal 7 en die Dokter Conrad Brand was sommer ook drek. Finish en klaar.

Die dag in die stoepkamer het ek benoud oor my skouer gekyk, maar niemand gesien nie. So het ek dan die hele tas by die stink kamer uitgesleep en op die verste end van die stoep my loop verlustig aan die avonture van Rocco de Wet op die grens. Maar na die eerste paar bladsye het die tergende gevoel by my ontsaan dat iets nie pluis was met die storie nie. Daar was soveel gate. Die masjiengeweer in Rocco de Wet se hande het die boor van oompie Stefaans se haelgeweer gehad en om alles te kroon was die loop met die omhulsel met die gate in ‘n Landrover se steering rod. Self ek wat ‘n laaitie was het dit dadelik gesien. Het my vadertjie dan nie ‘n maad tevore oom Vick se 3 Series reg gemaak en ek was soos altyd aan sys y en het met bewondering gekyk hoe hy die calburettor afhaal en aandagtig staan en bekyk nie?

Dan was daar die ding van Rocco wat in die helikopter afgeneem het. Ek het aandagtig na die binnekant van daai helikopter gekyk en al wat ek kon sien was die binnekant van ‘n Land Cruiser se cab. Hoeveel keer het ek in oom Kassie se Land Cruiser bakkie sit en mock drive terwyl my pa oom Kassie se blonde karakoel krulletjies in die garage geskeer het. Soos almal weet was Lang Herman die beste barber in die hele Munisipalitiet en baie manne het hier in sy garage agterstevoor op die ou kombuis stoel kom sit en nonsense sit praat terwyl Lang herman hulle hare noukeurig geskeer het. Die ou kombuis stoel wat vandag nog daar staan.

Dis dan toe dat ek uit my mymering daar op Leipoldtville op tannie Voetjie se stoep geruk word deur oom Tienie se ou-ou Toyota bakkietjie met die skerp grill waarvan die brieke soos ‘n dronk ousie gegil het as die oom wou stilhou. Almal weet oom Tienie was baie suinig. Hy het mos hoeka ou vuurhoutjies loop en optel en in ‘n jemblik in sy winkeltjie loop gooi vir incase hy dit kan gebruik eendag.

Daar leun oom Tienie uit sy bakkietjie uit en sit en kyk spottend na my vadertjie en oom Nols waar hulle sit verf. “Dis mos halwe werk om op jou gaat te sit paint Jaman!” … “Nee wat oom Tienie ons vat dit maar kalm en die mure lyk mos ook beter as jy vir hom stadig paint.”Oom Tienie sit en snork maar net en kyk die petalje so aan en hou voet by stuk lat mens liewer maar moet staan en werk anders kom die werk nie gedaan nie. Dis toe ek weer afkyk en ‘n Rocco de Wet se dapper gesig vaskyk dat ek die sêding onthou wat my vadertjie altyd vir my vertel het as ek lui was en nie wou help nie: “Van sit en staan kom niks gedaan” kom dit kliphard van my kant af ‘n my skril klein laaitie stemmetjie wat my ongewild gemaak het by baie ou mense.

Oom Tienie gee een kyk in my rigting en snork weer , maar die keer van die lag. Met díe glip die clutch onder sy velskoen uit en die ou Toyotatjie gee drie moerse bokspringe vorentoe en begin dan ‘n die pad afdarf teen ‘n goeie spoed met oom Tienie se snorklaggie wat dit guitig volg soos ‘n lammertjie sy ooi sal volg. Ek kyk versigtig in my vadertjie se rigting en sien net tande soos hy sit en runnik van die lag soos sy gewoonte was. Sy skouers skud soos een wat ‘n gramstorige bokram by die horings beet het. Oom Nols staan net en glimlag effens soos wat sy gewoonte was. Ek het vir oom Nols nooit hardop sien lag nie.

Toe kyk ek maar weer af na die man wat my op daardie dag orreed het dat ek eendag ‘n soldaat gaan wees. Ek was een van die eerste matrieks wat by die deftige army rekrute agter die lang ry tafels loop inteken het toe hulle by ons skool aankom. Waar meeste van die laaities bleek was was ek die ene plesier en het deftig my heel eerste handtekening op die army form ingevul. Op my wange het ek ge voel-voel om my sideburns al gekom het, maar ek kon net die puisies van my adolosensie voel.

Oom Tienie het aangery in Muisbos strand se rigting. Hy is later van jare aan beenmurgkanker oorlede.

Lang Herman het nog baie mure geverf voor sy dood laas jaar. Partykeer het hy gesit en verf en partykeer het hy gestaan. En elke keer was die job gedaan.

Oom Nols lewe nog en is op die oomblik in die Kaap waar hy ‘n operasie op sy bene ondergaan.

Ek sit en voel-voel aan die harde baard deurspek met grys op my wange. My army dae is net ‘n vreugdevolle, vae herhinnering. Ek vra myself af: “Is jy gelukkig oubal?” Nie regtig nie. Maar ons almal kan nie wees wat ons gedroom het ons wil wees nie. Jy lewe maar jou lewe en doen alles wat jy kan na die beste van jou vermoë. En as jy weer sien is jy oud met net jou mooi herhinneringe. Soos Rocco de Wet wat met sy rug teen die muur voor die Bottelstoor sit en yl. Maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag…
rocco de wet 1

Wilhelm van Mariental

Wilhelm van Mariental

Wilhelm was ‘n arbeider op een van die groente plasies by die Hardap besproeings skema. Hy was ‘n noukeurige arbieder wat aandagtig na sy opdragte geluister het. Hy het homself daarop geroem dat die plaasboer hom nie twee keer een ding hoef te vertel het nie. Nee. Wilhelm was nie soos ander wat vir hom onnosel gehou het nie. So het hy dag vir dag die grond bewerk en groente het soos kinders onder sy knap hande gegroei. Dinge was salig en rus en vrede het soos ‘n swaar komber bo op Mariental gelê en niemand sou ooit kon raai dat die rustigheid gesteur sou kon word nie.

Soos die ou wêreld nou maar is kom daar van tud tot tyd winde veranderinge. So het Mariental se dag dan toe ook aangekom. Die Burgermeester wat nie veel te doen gehad het nie, was baie jaloers op oom Hampie wat die burgermeester van Keetmanshoop was. Groen oë het gereeld vanaf Mariental se Burgermeester na Keetmans s’n geflits. Die dag moes dan ook kom dat ou Hampie Keetmanshoop ewe vernaam as die Hoofstad van die Suide aangekondig het.

Nou soos almal weet is die suide van Namibia maar baie arm en niemand stel belang aan die groot oop stuk wêreld waar daar net die Witrand en die Swartrand vir ewig in die son lê en bak met niks tusssenin nie. Boerdery en toerisme was natuurlik die geldmakers vir die suide, maar nadat die Vingerklip loop omval het, het toerisme na Keetmans toe begin kwyn en Oom Hampie moes plan sien om die dorp weer op die kaart te kry.

Maar die Burgermeester van Mariental het besluit om die doenigheid in die kiem te smoor. Sy heel eerste plan was op robots in Mariental se hoofstraat te laat instaleer teen ‘n helse onkoste. Niemand het geklaag nie, want so iets was ‘n nuutjie in Marietal en die mense was baie opgewonde toe die gate beginne grou word waar die robot pale geplant sou word. So het die dag dan aangekom waarop die robots onder luide toejuiging van die dorp se inwoners aan geswiets is en waar hulle met absolute bewondering staan en kyk het hoe die robots van groen na oranje en dan sommer weer na rooi toe oorslaan. Die mense het bly staar en srtaar en die Burgermeeser moes later die konstabel vra om die mense te verwiller, wan thy wou nie graag hê die beskoerers moest dink hulle is niksgewoond nie. Set die mense dan toe uitgewyk en die robots vanaf die koöperasie se stoep loop gade slaan.

Nou vir die meeste mense in Marietal wat nooit uit die dorp kom nie was dit maar moeilik om te verduidelik hoe daar gery moet word oor daardie ligte. In die eerste week was daar so hittete ‘n groot ongeluk toe die een boer met soveel aandag na die rooi ligte sit staar dat hy reg oor die robot ry sonder om te briek en amper in oom Gert se spoorweg lorrie loop in neuk. Gelukkig had oom Gert ‘n harde stem. Toe hy skreeu toe briek daai boertjie soos wat geen rooi lig hom ooit laat briek het nie.

Dit bring my dan weer terug na Wilhelm van die besproeings skema. Nuus het uitgefilter na die omliggende plase toe en die robot was natuurlik vir 6 maande die besprekings punt van elke liewe geselskap in die kontrei. Teen die tyd wat dit dan by Wilhelm uitkom was hy toe heel gefassineerd deur die hele gedoente. “Nou waarvoor het hulle dan die ligte by die petrol stasie loop oppsit?”, vra hy vir Jakobus Vleermuis wat met die nuus die Sondag middag by sy strooise aankom. Jakobus het toe al die reël vers en kapittel geken en hy was die skema se ekspert met die dat sy jong broer ‘n drywers liksens gehad het. “Nee jy sien dis vooruitgang swaer Wilhelm” seg hy toe ewe belangrik soos wat hy die burgermeester sien praat het.

“Kyk swaer Wilhelm as djy in die dorp ry en die ligte slaan rooi dan moet djy briek. Dan moet djy wag laddie ligte wier groen slaan en dan kan djy maar ry.” Ou Wilhelm het aandag sit luister en toe sy kop laat sak en noukeurig aan sy pyp sit suig. “En as die lig oranje is wat maak djy dan?” “Nee kyk dan moet djy rondkyk. As djy niemand sien nie kan djy maar vinnig ry” “En as djy ry en die lig is rooi, wat dan?” “Wilhelm…. dan kaak djy”

Paydag het gekom en ou Wilhelm het vroeg die vorige aand vir Goliat en Simson loop vang en hulle onder die peperboom kom kniehalter waar hulle dan die nag moes slaap sodat hy hulle vroeg-vroeg die volgende oggend kon inspan. Want hy weet mos nou al. As jy haastig is en jy wil ry dan is Simson weg en Goliat staat kyk jou net aan as jy vloek. So het hy dan die volgende oggen 4 uur opgestaan en die twee donkies in die harnas ingegespe en voor die karretjie ingespan.

Hy en ou Saartjie is 5 uur daar weg met ou Saartjie toegewoel onder ‘n army kombers teen die voordag koue. Teen die tyd dat hulle Mariental se uitdraai bereik, kom die sonnetjie dan ook net-net uit. Soos hy dan die laaste lang draai in die dorp inry sien hy dan vir die eerste keer die stel groen ligte waarvan hy net gehoor het. Soos hy by Jakop gehoor het, is dit reg om te ry, maar hy het nie ver gery nie toe raak die ligte daar voor eers oranje en toe rooi en ferm trek ou Wilhelm die leisels in en dankbaar loop staan die luie Simson en Goliat. Na so ‘n tydtjie raak die ligte groen en gee hy ‘n raps in die rug bo die donkies se ore. Traag trek die twee weer aan die harnas en lui-lui kry hulle hul draf pas soos net ‘n donkie kan draf, maar nie baie verder nie loop slaan die ligte daar voor weer oranje en toe rooi en weer trek ou Wilhelm die leisels in.

So het hulle dan staan-staan die dorp ingery tot by die koöperasie. Die moeilikste deel vir ou Wilhelm was om die heel tyd te sit en omkyk nadat hulle verby die robots gery het. Want hy moes kyk waar hy ry en dan moes hy sit en omkyk vir wanneer die ligte weer laat weet lat hy moet stop. Ou Wilhelm se hart was swaar daardie heel voordag wat ou Saartjie met blink kraalogies in die koöperasie geshop het. Soos die Nama/Damara volkie mos nou is, word daar eers 6 boksies Kloof koffie gekoop. Dan word daar vir die kleingeld gewag. Dan word die kleingeld buite op die koöperasie se stoep loop tel en dan word daar beraadslaag. Dan gaat ou Saartjie weer in om ‘n pond suker te loop vra. Die kleinegeld word dan weer gevat en buite op die stoep geloop tel. En so gaan dit dan aan.

Ek sal nooit weet hoekom hulle so maak nie. Ek het nooit gevra nie, want om so iets te vra sal baie ongeskik wees. Want dit is die mense se tradisie. Die Koöperasie tannie was dit gewoond en sy het met groot geduld die inkopies hanteer. Soms moes sy met groter geduld verduidelik het dat sy hulle nie verneuk het nie en dat die kleingeld reg was. So hier teen 3 uur in die middag se kant het ou Saartjie alles gehad wat sy wou hê en sy het sowaar ook vir ou Wilhelm ‘n stukkie pruimtwak ook gekoop en liefderik in sy hand kom stop.

Op pad terug was dit weer die selle storie met die robot doer annerkant. Hulle is stop en ry stop en ry daar uit en toe hulle om die laaste draai gaan en die ligte is weg was ou Wilhelm ‘n baie gelukkige man. Die aand het hy bedruk in hulle ou holrug bedtjie met die klapperhaar matras loop inklim en daar lê en steun en kreun. Dan draai hy diekant toe en dan draai hy daai kant toe. Ou Saartjie vra later vir hom. “Wat kan jy nie stil lê nie? Het jy weer bal luis in die dorp loop optel toe ek my rug draai.?” En so kraai ou Saartjie vannie lag, want sy weet maar te goed dat ou Wilhelm sy laaste daad 5 jaar terug gedoen het en toe nooit weer nie. Ouderdom het hom gevang.

Terwyl ou Saartjie dan so lê en kekkel soos ‘n broeis hen vannie lag vra ou Wilhelm ewe hartseer. “Saartjie, hoekom moet daar rooiligte in die ou wêreld wees?”

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.