Vanaand is ek heel in vervoering met my verlede en alles wat op een tydstip met my gebeur het. Amper so in vervoering díe dag op Tannie Voetjie se stoep toe ek die deur oopmaak en die ou soetkys in die hoek van die stoepkamer sien lê. Die kamer het gestink van die aartappelmoere wat daar gestoor was omdat die kamer voorheen nie in gebruik was nie. Soos enige sandvelder jou kan vertel kry jy nie maklik die reuk van aartappelmoere uit ‘n woonkamer nie.
Ek onthou nog goed dat my vadertjie en oompie Nols buite besig was om die ou huis se mure af te wit. Destyds het hulle in die Kaap sommer ‘n sak gypsum gekoop en dan die wit poeier met water gemeng en daarmee die mure geverf met growwe borsel kwaste. Die twee het rustig op tannieVoetjie se kombuis stoele sit en verf en was heel onbewus van my daar in die stoepkamer.
Om die waarheid te sê het ek ook net daar belangstelling verloor en die verwery en nader gestaan om te sien wat in die tas was. Dit was een van daai ou karton soetkyste met die hout repe bo oor die deksel en ook onder deur om die swak struktuur stewiger te hou. Ek het die deksel versigtig oop gemaak en tot my absolute plesier ‘n tas vol fotoboekies ontdek. Met groot ongeloof het ek die boonte een uitgehaal en hier op die omslag was die man wat ek eendag graag wou wees. ‘n Man met ‘n onverstrokke gesig met langerige hare en twee sideburns wat my laat snak het van verwondering en wat my hunkerend nat my eie gladde wangetjies laat voel -voel het of iets darem nie al begin groei het.
Swaar en struikelend het ek die woorde bo op die foto gelees. Rocco de Wet. “Die Grensvegter.” Soos elke laaitie destyds het ek maar te goed geweet waar die grens was en my maaitjies by die skool was maar al te bly om my in te lig oor die gory details van die gevegte wat daar plaasvind. Ons laerskool was beleër met army mans tot die tande toe gewapen en soekligte was aan ons tralies vasgeheg wat in die aande heen en weer geswaai het soos onrustige geeste deur die nag. Want die storie gaan dat hulle ‘n Typhoon doodgeskiet het op die grens en in sy besit ‘n grondplan van ons skool gevind het. Wat die bogger daarmee wou maak kan jy vir jouself raai.
The purpose of terrorism is to terrorise. So was ons van vroeg af geleer en gou-gou het die sensasie van die armymanne by ons skool vervaag en meer aandag was gegee aan die Rocco de Wet foto boekies wat in die tasse versteek was tussen al die teksboeke. My vadertjie het kort arms en diep sakke gehad en die gedagte om vir my fotoboekies te koop het nooit eers by hom opgekom nie. Volgens my vadertjie was dit snert en selfs euwel. Gaan kyk nou maar net die kaalgat vroumense. Self die dominie van Sake van die Hart het soos ‘n skelm gelyk en die Ruiter in Swart se ogens was toegemaak soos ‘n rowenaar sin. Om nie te praat van die Wit Tier nie. Enige bogger kon sien dat die Wit Tier ook die Ruiter in Swart was met ‘n blonde pruik op. Saal 7 en die Dokter Conrad Brand was sommer ook drek. Finish en klaar.
Die dag in die stoepkamer het ek benoud oor my skouer gekyk, maar niemand gesien nie. So het ek dan die hele tas by die stink kamer uitgesleep en op die verste end van die stoep my loop verlustig aan die avonture van Rocco de Wet op die grens. Maar na die eerste paar bladsye het die tergende gevoel by my ontsaan dat iets nie pluis was met die storie nie. Daar was soveel gate. Die masjiengeweer in Rocco de Wet se hande het die boor van oompie Stefaans se haelgeweer gehad en om alles te kroon was die loop met die omhulsel met die gate in ‘n Landrover se steering rod. Self ek wat ‘n laaitie was het dit dadelik gesien. Het my vadertjie dan nie ‘n maad tevore oom Vick se 3 Series reg gemaak en ek was soos altyd aan sys y en het met bewondering gekyk hoe hy die calburettor afhaal en aandagtig staan en bekyk nie?
Dan was daar die ding van Rocco wat in die helikopter afgeneem het. Ek het aandagtig na die binnekant van daai helikopter gekyk en al wat ek kon sien was die binnekant van ‘n Land Cruiser se cab. Hoeveel keer het ek in oom Kassie se Land Cruiser bakkie sit en mock drive terwyl my pa oom Kassie se blonde karakoel krulletjies in die garage geskeer het. Soos almal weet was Lang Herman die beste barber in die hele Munisipalitiet en baie manne het hier in sy garage agterstevoor op die ou kombuis stoel kom sit en nonsense sit praat terwyl Lang herman hulle hare noukeurig geskeer het. Die ou kombuis stoel wat vandag nog daar staan.
Dis dan toe dat ek uit my mymering daar op Leipoldtville op tannie Voetjie se stoep geruk word deur oom Tienie se ou-ou Toyota bakkietjie met die skerp grill waarvan die brieke soos ‘n dronk ousie gegil het as die oom wou stilhou. Almal weet oom Tienie was baie suinig. Hy het mos hoeka ou vuurhoutjies loop en optel en in ‘n jemblik in sy winkeltjie loop gooi vir incase hy dit kan gebruik eendag.
Daar leun oom Tienie uit sy bakkietjie uit en sit en kyk spottend na my vadertjie en oom Nols waar hulle sit verf. “Dis mos halwe werk om op jou gaat te sit paint Jaman!” … “Nee wat oom Tienie ons vat dit maar kalm en die mure lyk mos ook beter as jy vir hom stadig paint.”Oom Tienie sit en snork maar net en kyk die petalje so aan en hou voet by stuk lat mens liewer maar moet staan en werk anders kom die werk nie gedaan nie. Dis toe ek weer afkyk en ‘n Rocco de Wet se dapper gesig vaskyk dat ek die sêding onthou wat my vadertjie altyd vir my vertel het as ek lui was en nie wou help nie: “Van sit en staan kom niks gedaan” kom dit kliphard van my kant af ‘n my skril klein laaitie stemmetjie wat my ongewild gemaak het by baie ou mense.
Oom Tienie gee een kyk in my rigting en snork weer , maar die keer van die lag. Met díe glip die clutch onder sy velskoen uit en die ou Toyotatjie gee drie moerse bokspringe vorentoe en begin dan ‘n die pad afdarf teen ‘n goeie spoed met oom Tienie se snorklaggie wat dit guitig volg soos ‘n lammertjie sy ooi sal volg. Ek kyk versigtig in my vadertjie se rigting en sien net tande soos hy sit en runnik van die lag soos sy gewoonte was. Sy skouers skud soos een wat ‘n gramstorige bokram by die horings beet het. Oom Nols staan net en glimlag effens soos wat sy gewoonte was. Ek het vir oom Nols nooit hardop sien lag nie.
Toe kyk ek maar weer af na die man wat my op daardie dag orreed het dat ek eendag ‘n soldaat gaan wees. Ek was een van die eerste matrieks wat by die deftige army rekrute agter die lang ry tafels loop inteken het toe hulle by ons skool aankom. Waar meeste van die laaities bleek was was ek die ene plesier en het deftig my heel eerste handtekening op die army form ingevul. Op my wange het ek ge voel-voel om my sideburns al gekom het, maar ek kon net die puisies van my adolosensie voel.
Oom Tienie het aangery in Muisbos strand se rigting. Hy is later van jare aan beenmurgkanker oorlede.
Lang Herman het nog baie mure geverf voor sy dood laas jaar. Partykeer het hy gesit en verf en partykeer het hy gestaan. En elke keer was die job gedaan.
Oom Nols lewe nog en is op die oomblik in die Kaap waar hy ‘n operasie op sy bene ondergaan.
Ek sit en voel-voel aan die harde baard deurspek met grys op my wange. My army dae is net ‘n vreugdevolle, vae herhinnering. Ek vra myself af: “Is jy gelukkig oubal?” Nie regtig nie. Maar ons almal kan nie wees wat ons gedroom het ons wil wees nie. Jy lewe maar jou lewe en doen alles wat jy kan na die beste van jou vermoë. En as jy weer sien is jy oud met net jou mooi herhinneringe. Soos Rocco de Wet wat met sy rug teen die muur voor die Bottelstoor sit en yl. Maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag…










29c die dae toe geld nog iets kon koop …
Ai, nee man. Maak mens morbied so laat op ‘n Saterdagaand. Waar is die tyd tog nie heen nie.
Soos duinsand deur mens se vingers, vlam.
was ek ook eendag jonk? … Harry jou storie het my soos gewoonlik geboei …
En nou ontdek ek JOU ook – great Stuff!!